Impala History

Impala Radio

Die ontstaan van Impala Internet Radio was heel interessant.  Dit het spontaan ontwikkel sonder enige groot beplanning.  Dit was eintlik nooit die bedoeling om wêreldwyd uit te saai nie.

Nadat ons in 2004 hier in Australië kom woon het was die aanpassing vir my baie moeilik hier in die vreemde.  Ons kom van die pragtige groenlande van Natal; en daar eindig ons toe op ‘n vaal droë half-woestynagtige dorp in die Outback van Australië met die naam van Kalgoorlie.  En eendag, toe ek weer nostalgies terug verlang na Suid-Afrika, toe stel my seun (Darren) voor dat ek na ‘n paar Suid-Afrikaanse CD’s moet luister.  Dit was vir my onpersoonlik, ek wou hoor hoe iemand “uitsaai” en nie net na liedjies luister nie.  In ‘n grap vra ek hom toe om ‘n program te gaan soek wat dit vir hom moontlik sal maak om liedjies vanaf sy rekenaar uit te saai na die ander rekenaars in die huis.  Darren het ook gladnie op hom laat wag nie.  ‘n Rekenaar, ‘n program, musiek CD’s en ‘n mikrofoon - en kort voor lank toe saai hy heerlik uit vanaf sy kamer en ek lê heerlik in my kamer en luister.  Dit was die begin van Impala!  Darren se heel eerste uitsending na die ander rekenaars in ons huis was op Woensdag, 1 Julie 2009.  En skielik was Wes Australië nie meer so plat vaal droog en lelik nie!

Maar hierdie “radio” waarna ek geluister het was naamloos!  Ons het ‘n hele paar dae kop gekrap om ‘n gepaste naam te kry.  Ons wou die “radio” die naam van “Springbok” gee (goeie herinneringe aan rugby), maar aangesien dit ‘n handelsnaam in Suid-Afrika is van ‘n baie gewilde en bekende SAUK Radio stasie (wat ongelukkig nie meer bestaan nie), het ons geweet dat ons een of ander tyd in die toekoms moontlik in hofsake betrokke kon raak aangesien dit steeds ‘n geregistreerde handelsmerk in SA is.  Hiervoor het ons beslis nie kans gesien nie.  Gelukkig is die ‘bok-familie’ mos groot en ons trek toe maar vir “Impala” nader om vir ouboet “Springbok” in te staan.   Dit was toe die geboorte van die baba-bokkie “Impala”.

Op ‘n stadium het ek en Darren gevoel  dat ons nie so selfsugtig moet wees nie maar Impala Radio ook met ander Suid-Afrikaners, van reg oor die wêreld, moet deel.  Impala het toe heel ‘spiekeries’ ‘n Facebookblad gekry en daarna het dinge sommer vinnig begin gebeur.  Wat eers ‘n ‘huis-uitsending’ was het skielik ontaard in ‘n ‘wêreld-uitsending’.

Impala se uitsending is uniek.  Dit is hoofsaaklik gerig op die meer ‘volwasse’ luisteraar.  (Hahaha..... okay, al is dit swaar, kom ek erken: Dit is gerig is op ons ‘ouer’ luisteraars!) Maar omdat ek gladnie ‘oud’ voel nie noem ek dit maar die ‘meer volwasse’ musiekkeuse.  

Impala Radio speel lekker op en wakker liedjies.  Wat die individuele DJ’s speel is natuurlik hulle keuse, maar die Auto DJ sal hoofsaaklik op en wakker wees.  Ons hou luisteraars wakker.  Nagdienswerkers en ander naguile geniet Impala baie, want hier word daar nie geslaap nie!

Interessante statistiek

Datum Van Eerste Uitsending:

Woensdag 1 Julie 2009

Die 1ste DJ:

Die eerste persoon wat uitgesaai het op Impala was Darren Jonker.  Op ‘n latere stadium het hy ‘n program gedoen met die naam van “Flashback”

Die 2de DJ:

Leon Rossouw was die tweede DJ hier op Impala, maar eintlik die eerste DJ wat van buite Australië uitgesaai het.  Leon is woonagtig in Pretoria en het vir baie lank die program “Old But Bold” aangebied.

Radio Bestuurders By Impala:

  • Edwin Oliphant vanaf 16 Januarie 2011 tot 14 Oktober 2012
  • Melt van Aarde vanaf 4 Desember 2012 tot 29 Augustus 2013
  • André van Zyl vanaf 1 September 2013 tot
  • Hentie Cockeran vanaf 

Hoogtepunte:

Jan Booth (DJ Jannas) was die eerste DJ om lewendige uitsendings op Impala te doen.
Jan Booth was ook die eerste om lewendige buite-uitsendings te doen met 3G internet verbinding.  Dit was die eerste vir Suid-Afrika.  Impala het die weg gebaan en geskiedenis gemaak met ander Internet Radio Stasies wat gevolg het.

Impala Internet Radio het op 3 September 2012 uitgesaai by die Texas Potjie Kompetisie wat jaarliks in Texas, USA gehou word.  Alhoewel die Impala DJ’s nie self in Texas was nie, is die uitsending oor Texas Potjiekos kampeerterrein herlei met behulp van hulle luidsprekerstelsel.

Gedurende November 2012 het Impala Radio ‘n ere CEO rol aangebied aan Lance James.  Lance James het dit goedgunstelik aanvaar.  Daardeur gee Impala Radio erkenning aan “Big Daddy – Lance James” vir sy bydrae in wat hy vir die Suid-Afrikaanse Musiek, en meer spesifiek Country Musiek, gedoen het en nog steeds doen.

Skrywer van die artikel: Cris Jonker


There are no products to list in this category.